Vermeende bende amper skotvry ná polisie-blaps
2011-07-04 19:59
Johannesburg – Drie mans wat in hegtenis geneem is in verband met ‘n vlaag huisbrake en rooftogte in en om Sandton in Johannesburg, is Maandag vrygespreek omdat die polisie versuim het om die drie binne 48 uur na die hof te bring.
Die bende word veral met die roof van juweliersware en horlosies verbind.
Bafana Mthembu, Moses Maleka en Benson Mbatha is deur landdros Anton Klopper in die streekhof in Pretoria vrygespreek nadat hy bevind het die polisie het die tydperk van 48 uur waarbinne verdagtes in die hof moet verskyn, oorskry.
Saul Sefike, aanklaer, het geargumenteer dat die 48 uur eers Maandag verstryk het, aangesien hulle Woensdag ná 17:00 in hegtenis geneem is.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Bronwynne Forby, het gesê daar was aanvanklik ‘n ooreenkoms dat sy kliënte Vrydag in die hof sou verskyn, maar dit het nie gebeur nie.
“Daar was niks wat die Staat verhoed het om die beskuldigdes Woensdag na die hof te bring nie. Hulle (die polisie) wou hê die beskuldigdes moes bekentenisse maak.”
Hy het gesê hy is ingelig dat die polisie DNS-monsters van die drie mans oor die naweek wou neem.
Klopper het na die wet verwys wat daarop dui dat 48 uur die maksimum tydperk vir aanhouding voor ‘n beskuldigde se eerste verskyning is en dat die polisie daarna moet streef om mense vinnig voor die hof te bring.
“Moet hulle nie vir 48 uur aanhou en ander kwessies ondersoek nie. Bring hulle na my toe en vra vir ‘n uitstel.”
Oomblikke nadat Klopper sy beslissing gemaak het, is die drie verdagtes deur ses swaar gewapende polisiebeamptes omring en in verband met ‘n ander klag in hegtenis geneem. Die beamptes wou nie sê wat die aanklagte is nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA