Vermeende Sibiya-moordenaar kry nuwe prokureur
2011-09-20 14:40
Xolani Zulu, die man beskuldig van die moord op die ANC se eThekwini-streeksekretaris Sbu Sibiya, se prokureur sal hom nie meer verteenwoordig nie, het die Ntuzuma landdroshof Dinsdag gehoor.
"Sy prokureur het weens geldelike redes onttrek. Hy het 'n ander prokureur aangestel," het staatsaanklaer Noxolo Dube gesê.
Zulu het aan die hof gesê hy is nie gereed om vir borgtog aansoek te doen nie omdat hy steeds sy nuwe prokureur op hoogte van sake bring.
Die nuwe prokureur het nie die hofverrigtinge bygewoon nie en sal Zulu begin verteenwoordig wanneer hy op 29 September weer in die hof verskyn.
Polisiebeamptes het Zulu Dinsdag na die hof vergesel. Talle ANC-lede was teenwoordig in T-hemde wat foto's van Sibiya se gesig op gehad het.
Die verrigtinge is ook deur provinsiale leiers van die ANC bygewoon, wat die skare later sou toespreek.
Zulu is twee weke gelede in Durban se Yellowwood-park in hegtenis geneem. Zamani Sikhakhane, nog 'n verdagte in die Sibiya-moord, is in 'n skietgeveg met die polisie dood.
Sibiya is in Julie in 'n koeëlreën dood toe hy by sy huis in Inanda buite Durban ingegaan het.
– Volg Nuus24 op Twitter.