Vermeende Rolex-bendelede vasgetrek
2011-07-01 17:14
Johannesburg – Drie mans wat vandeesweek in hegtenis geneem is, is glo lede van die berugte Rolex-bende, het die polisie Vrydag gesê.
Die verdagtes is Woensdagaand in Rivoniaweg in Illovo vasgetrek.
Hulle het in 'n gesteelde voertuig gery. Die polisie het ook beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens en toerusting wat tydens inbrake gebruik word.
Die polisie is toe na twee huise in Bramley en Alexandra gelei, waar hulle beslag gelê het op twee gesteelde motors en Rolex-horlosies ter waarde van R2,5 miljoen.
"Ons glo ons het 'n deurbraak gemaak met die inhegtenisneming van die drie mans. Hulle word verbind met 'n vlaag huisbrake en die roof van juweliersware, insluitend Rolex-horlosies," het Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter