Vermeende OTM-bommers in hof
2011-07-22 13:01
Durban – Twee mans wat glo verantwoordelik is vir 'n OTM-bomaanval in Vryheid in noordelike KwaZulu-Natal sal Vrydag in die Newcastle-landdroshof verskyn, het die polisie gesê.
Brig. Neville Malila het gesê die twee mans is deel van 'n groep van 10 mans wat glo verantwoordelik is vir OTM-bomaanvalle in Gauteng en KwaZulu-Natal.
"Mediadekking en 'n aantal wenke via Crime Line en Stopmisdaad het gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes in Johannesburg."
Vier mans is vroeër vandeesweek tydens 'n OTM-bomaanval op kringtelevisiekameras vasgevang.
Die groep het glo 'n OTM in Pimville, Soweto, opgeblaas. Hulle het na bewering die polisiereservis Busisiwe Mehlwana doodgeskiet en 'n bedrag geld gebuit.
Die ondersoek duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA