Verlamde man eis R31 m. ná ongeluk in Kaapstad
2012-03-22 11:00
Kaapstad – 'n Man eis R31 miljoen van 'n motoris en Wes-Kaapse owerhede ná 'n motorongeluk in Kaapstad hom verlam gelaat het, het die Cape Times Donderdag berig.
Scott Thomson, 26, dagvaar die kantoor van die Wes-Kaapse LUR van gesondheid, Theuns Botha, vir ongeveer R16 miljoen omdat paramedici na bewering nie die nodige stappe gevolg het om te verseker dat sy beserings nie vererger word nie.
Volgens 'n beëdigde verklaring wat by die Kaapse hooggeregshof ingedien is, was "... die paramedici nalatig... toe hulle (Thomson) uit die voertuig gehaal het en hom van die ongelukstoneel verwyder het op 'n draagbaar sonder om die nodige stappe te volg om hom te beskerm teen verdere beserings."
Hy beweer hy het op die grond geval terwyl paramedici hom na die ambulans gedra het. Thomson is in 'n rolstoel sedert die ongeluk op 11 Mei, 2008.
Hy dagvaar ook die bestuurder van die motor waarin hy 'n passassier was vir ongeveer R15 miljoen.
Hy beweer Dane Johnson, 27, het gejaag toe hy beheer oor die voertuig verloor het. 'n Verhoordatum is nog nie vasgestel nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA