Verkragtingslagoffer se familie wys DA weg
2013-02-05 09:39
Johannesburg – Lindiwe Mazibuku, parlementêre leier van die DA, is verhoed om ‘n 82-jarige verkragtingslagoffer in KwaSwayimane, KwaZulu-Natal, te besoek, het The Times Dinsdag berig.
‘n Groep van sowat 25 mense met harke, byle, grawe, pangas en sekels het Mazibuko en haar party Maandag buite die vrou se huis ingewag.
Hulle het pamflette versprei met die woorde: “Gaan dood, DA en julle geld – ons soek nie julle hulp nie.”
Mduduzi Goba, ANC-wyksraadslid, het Mazibuko se besoek as ‘n belediging beskryf. ‘n Plaaslike politikus, wat ‘n familielid van die vrou is, het die DA verhoed om die huis binne te gaan.
“Die DA was nooit hier toe sy sewe maande gelede verkrag is nie. Sy was besig om te genees en sy was bekommerd en het weer siek geraak, want die DA wil politieke punte wen,” het die familielid gesê.
Mazibuko het later na ‘n plaaslike polisiestasie gegaan om aanklagte van intimidasie en aanhitsing van politieke geweld teen die ANC te lê.
Die ANC se streeksekretaris, Supa Zuma, het ontken dat lede van die party die DA se besoek in die wiele gery het.
Twee bejaarde vroue, onderskeidelik 94 en 82 jaar oud, is verlede jaar in dié gebied verkrag. Die 82-jarige se verkragter is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA