Verkragtingsaak teen pa teruggetrek
2009-11-08 00:37
Kaapstad - Die Wes-Kaapse direktoraat van openbare vervolging (DOV) het voorlopig 'n klag van verkragting teen 'n Duitse man (53) wat glo sy dogter verkrag het, teruggetrek.
Die saak is Vrydag teruggetrek toe die man sy vierde verskyning in die Muizenberg-landdroshof gemaak het.
Die man, 'n inligtingstegnologie-spesialis van Muizenberg wat na bewering sy 18-jarige dogter herhaaldelik verkrag het, het voor landdros Andre Maqubu verskyn.
Sy dogter, wat saam met haar ma en broer in Duitsland woon, het
in Februarie haar pa besoek nadat sy hom deur middel van die internet
opgespoor het.
Hy word aangekla van bloedskande, verkragting en aanranding en is vroeër op borgtog van R1000 vrygelaat.
Die saak is teruggetrek nadat die DOV 'n brief van Martinho van Schalkwyk, die beskuldigde se regsverteenwoordiger, ontvang het.
Claire Ehrenricht, staatsaanklaer, het aan die hof gesê die klag is voorlopig teruggetrek omdat die slagoffer nie meer in die land is nie.
Die saak sal weer heropen word as die dogter na Suid-Afrika terugkeer, het Ehrenricht gesê.
– Sapa