Verkragtings in Oos-Kaap wek kommer
2012-02-09 12:55
Johannesburg – Seksuele geweld teenoor jong kinders en ouer mense neem al hoe meer toe in die Oos-Kaap, het brig. Marinda Mills, provinsiale polisiewoordvoerder, aan die Daily Dispatch gesê.
“Ons is bekommerd,” sê Mills. “Die probleem is nie die gebrek aan polisiëring nie, maar ‘n sosiaal-morele kwessie.”
Mills sê alkohol dra dikwels by tot verkragtings, aangesien dit mense meer nalatig oor hul veiligheid en omgewing maak.
Volgens die berig steier die provinsie onder ‘n vlaag kinderverkragtings oor die naweek.
Die polisie en die gemeenskap het vier sake van verkragtings by die Daily Dispatch aangemeld. Die sake het sewe slagoffers behels, waarvan ses van hulle kinders tussen die ouderdom van sewe maande en 15 jaar was.
Volgens die SAPD se nuutste misdaadstatistieke is 9 380 seksuele oortredings tussen April 2010 en Maart 2011 in die provinsie aangemeld.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA