'Verkragting sal slegte gevolge vir Bfn inhou'
2010-11-01 09:10
Volksblad
Bloemfontein - Die grusame verkragting van ’n dokter in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein sal waarskynlik baie slegte gevolge vir die stad en sy inwoners inhou.
Só sê dr. Sethulego Matebesi, ’n sosiale wetenskaplike en hoof van die departement sosiologie aan die Universiteit van die Vrystaat.
“Die voorval is nie net skokkend en verskriklik nie. Dit het ons ook weer sowat 30 jaar teruggesit wat gesondheidsorg betref.”
Wat hy hiermee bedoel, is dat dokters en gesondheidswerkers nou sal weier om in onveilige gebiede te werk.
“En dit is juis in dié gebiede waar ons hulle broodnodig het, maar ek kan nie insien dat enige vroulike mediese werker sal instem om verder in gevaarlike gebiede te werk nie. En wie kan hulle kwalik neem,” vra hy.
Matebesi sê hy is met afgryse vervul.
“Ons samelewing laat toe dat dié soort dinge gebeur. Mense in Suid-Afrika weet ’n goeie kans bestaan dat hulle met dié soort misdade kan wegkom.”
Hy sê dit is een van die grootste probleme in die land.
“Dan praat ek nog nie eens van die gevolge vir die slagoffer nie. Dit het haar vernietig. En nie net vir haar nie, ook haar naaste gesinslede, familielede, vriende en die groter gemeenskap van Bloemfontein.”
Voorts sê hy die voorval gaan verskeie emosies uit alle oorde ontlok.
Die grusame daad kan selfs vergelyk word met dade soos dié wat in Zimbabwe voorkom.
“Waar die onderliggende oorsaak in Zimbabwe politieke onstabiliteit is, kan die oorsaak by ons die politieke omgewing wees.”
Hy sê dié voorvalle sal nie ophou as ons land se leiers aanhou om haatspraak aan te wakker nie.
“Daar is leiers wat haat verkondig aan ongeletterde mense en wat haat aanmoedig.
“Hoe kan ons verwag die geweld sal dan ophou?”
Prof. André Duvenhage, politieke kenner aan die Noordwes-universiteit, skaar hom hierby.
“Daar is beslis ’n soort politieke verset teen ’n teikengroep. ’n Mens sien dit ook in plaasaanvalle.”
Hy sê wanneer gekyk word na misdaadstatistieke in dié land is Suid-Afrika “buite enige patroon”.
Die soort geweldsmisdade wat hier voorkom, is ongehoord in die meeste samelewings in die wêreld. In ander dele van die wêreld is daar ’n baie kleiner kans vir dié soort voorvalle.
“Die vraag moet gevra word waarom dit plaasvind. Daar is maatskaplike, politieke, sielkundige en ekonomiese redes. Nie een daarvan kan misdaad regverdig nie.”
Duvenhage sê nog vrae is of daar nie dalk juis nou ruimte vir die doodstraf is nie en of die verdagtes rehabiliteerbaar is. Hy dink nie so nie, sê hy.
Bydraende faktore tot dié soort geweldsmisdaad is dat die regstelsel die land se inwoners in die steek gelaat het, omdat verdagtes letterlik met moord wegkom.
- Volksblad