Verkragting in hospitaal ondersoek
2011-10-25 07:02
Bloemfontein – Bewerings word ondersoek dat ’n kankerlyer (50) glo op haar sterfbed in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein deur ’n verpleër verkrag is.
Dié terminaal siek vrou het beweer haar arms is ten tyde van die verkragting in die onkologiesaal deur ’n verpleegster vasgehou en haar mond toegebind.
Die sterwende vrou, wat baie pyn verduur, se man sê wat gebeur het, is “’n bitter pil om te sluk”.
Sy vrou is ná die verkragting ’n week gelede na ’n private hospitaal oorgeplaas. Dit gaan baie sleg met haar.
Sy vrou is in die onderlyf verlam nadat ’n kwaadaardige gewas in Julie 2010 van haar rugstring verwyder is.
Weens haar verswakte toestand kan sy nie meer chemoterapie ontvang nie en vir die erge pyn word sy met morfien behandel.
Hy sê hospitaalpersoneel het die morfien as verskoning voorgehou en gesê sy vrou is deurmekaar.
Sy het egter reeds die polisie ingelig wie haar vermeende verkragter en sy helper was en DNS-toetse word afgewag.
Sy is glo die nag van Saterdag 15 Oktober verkrag.
Haar man sê toe hy Sondagoggend oudergewoonte bel om te hoor hoe dit met haar gaan, het hy klaar geweet iets skort.
“’n Verpleegster het vir my gesê my vrou voel nie lekker nie. Ek is na die hospitaal toe. My vrou het gesê sy is oukei, maar ek kon sien iets pla haar.”
Sy het kort daarna vir een van die dokters gesê wat gebeur het en toe ook vir haar man vertel.
Dié dokter het gesê sy is “seker ’n bietjie deurmekaar”, maar hy sal dit by die matrone aan diens aanmeld.
Dit is by die matrone aangemeld, maar verder het hulle geen bystand ontvang nie, sê haar man.
“Ek het verwag hulle gaan minstens die polisie bel of haar laat ondersoek, maar hulle het niks verder gedoen nie.”
Hy het ’n klag by die Parkweg-polisiekantoor ingedien.
Hy sê die hospitaalbestuur het wel gebel om hom en sy vrou om verskoning te vra.
“Wat help ’n sorry? Jammer sê gaan my vrou niks help nie. Hoe kan ’n mens dié mense weer vertrou? Ek kan sien my vrou kry verskriklik swaar. Hoekom iemand verkrag wat homself nie kan verdedig nie? Ek staan nou net by my vrou. Ek doen nou alles in my vermoë om haar te help.”
Kapt. Harry Nagel, provinsiale polisiewoordvoerder, het gister gesê die vermeende verkragter en sy vermeende helper is nog nie in hegtenis geneem nie.
Die polisie wag, hangende die toetsuitslae, vir opdragte van die direkteur van openbare vervolging.
Jabu Mbalula, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die betrokke hospitaalwerknemers is versoek om tot verdere kennisgewing “vir hul eie veiligheid” nie werk toe te kom nie.
Hy sê die departement beskou die bewerings in ’n baie ernstige lig.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad