Verkragter in Vrystaat gesoek
2010-12-24 20:53
Bloemfontein – Die gemeenskap van Virginia in die Vrystaat is gevra om na vore te kom met inligting wat kan help om 'n verkragter vas te trek, het die polisie in die Vrystaat Vrydag gesê.
Konst. Tlalanyane Pakela het gesê 'n vrou in Merriespruit, Virginia, het 'n "onbekende man" in haar kombuis gevind wat haar bewusteloos geslaan en toe verkrag het.
Die voorval het op 18 November plaasgevind.
Pakela het gesê die man het deur die kombuisdeur toegang tot die huis verkry, die vrou oorrompel en haar kop gestamp totdat sy bewusteloos was.
"Toe die vrou haar bewussyn herwin, was haar klere en onderklere geskeur. Volgens die slagoffer het die verdagte haar verkrag terwyl sy bewusteloos was."
Haar handsak met persoonlike items, insluitend haar identiteitsdokument en bankkaarte, is vermis.
'n Saak van huisroof en verkragting is by die Virginia-polisiekantoor geopen, maar die verdagte is steeds op vrye voet.
Die ondersoekbeampte kan by 057 916 2384 gekontak word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA