'Verkragte' meisie: Ek het ingestem tot seks
2010-11-18 16:30
Johannesburg – Die 15-jarige meisie van die Jules Hoërskool in Jeppestown in Johannesburg wat haar skoolmaats daarvan aangekla het dat hulle haar verkrag het, het gesê dat dit konsensuele seks was, het die Independent Online Donderdag berig.
“Die meisie het Donderdag haar tweede verskyning in die landdroshof gemaak en sy het vir die eerste keer erken dat sy ingestem het tot seks met die twee seuns, wat onderskeidelik 14 en 16 is,” het die webwerf gesê.
Die meisie het Donderdagoggend tydens haar tweede verskyning van gedagte verander en gesê dat sy ingestem het om seks te hê, het IOL berig.
Adv. Menzi Simelane het tot die gevolgtrekking gekom dat beide die minderjarige verdagtes en die meisie wat die klaagster was, aangekla moet word, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in ‘n verklaring gesê.
Hulle is aangekla van die oortreding van die wet op seksuele oortredings en verwante sake, het die NVG gesê.
Volgens woordvoerder Mthunzi Mhaga voer die wet dat konsensuele seks met ‘n minderjarige steeds ‘n oortreding is wat vervolg kan word.
Volgens wysigings aan die wet op kinderregte kan beide partye vir statutêre verkragting in hegtenis geneem word wanneer seks tussen mense onder die ouderdom van 16 plaasvind.
Die twee seuns, wat onderskeidelik 14 en 16 is, is op 8 November in hegtenis geneem nadat hulle glo op 4 November ‘n meisie by haar skool in Jeppestown verkrag het.
Die seuns het na bewering die voorval op hul selfone afgeneem, wat later aan staatsaanklaers gewys is.
Staatsaanklaers het vroeër gesê dat daar nie genoeg bewyse was om die twee minderjarige verdagtes te vervolg nie. Hulle het gevra dat verdere ondersoek ingestel moet word, het Mhaga gesê.
‘n Staatsaanklaer en die waarnemende direkteur van openbare vervolgings het ‘n konsultasie met die meisie en moontlike getuies gehad, het hy gesê.
Die konsultasie, analise van die feite en die omstandighede van die saak het daartoe gelei dat al drie kinders aangekla word, het hy gesê.
Die meisie en die seuns se saak is tot 1 Desember uitgestel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA