Verkragte Tukkie was 'n maagd
2011-12-24 08:59
Sonja Carstens
Johannesburg – Die 22-jarige Tukkie-student wat ná Bybelstudie in haar meenthuis oorval en 23 keer met ’n mes gesteek is voordat sy verkrag is, was ’n maagd.
“Haar grootste vrees is dat geen man haar ooit sal wil hê noudat haar liggaam en gesig geskend en haar grootste geskenk wat sy aan haar man wou gee, van haar beroof is nie.
“Ons weet egter in God se oë is sy steeds ’n maagd, sy het nie toegestem dat haar aanvaller haar vir sy eie wellus kan misbruik nie,” het haar ma gister oor haar enigste kind gesê.
Die meisie is op 26 Oktober in haar meenthuis in ’n veiligheidskompleks in Magalieskruin, Pretoria, oorval.
Sy het kort tevore ná Bybelstudie saam met vriende gestap om die hek vir hulle te gaan oopmaak.
Tsietsi Samuel Msiza (24) staan in die Pretoriase streekhof tereg op aanklagte van onder meer poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en verkragting weens dié voorval.
Benewens die teenvigs-behandeling wat die meisie ná die verkragting moet gebruik, kry sy ook inspuitings vir ander geslagsiektes wat tot 25 jaar kan vat voordat dit manifesteer.
Een inspuiting kos R1 117, iets wat haar ma uit haar spaargeld betaal omdat haar voormalige man se mediese fonds, waarop haar dogter is, uitgeput is.
Intussen het die virus Bell se gesigsverlamming haar gestel weer aangeval weens die stres en trauma wat sy ervaar.
Die meisie het sedert die aanval gewig (8 kg) verloor.
Sy moes daarvoor nog ’n ekstra spesialis spreek en duur medikasie gebruik om die virus te beveg.
Volgens haar ma het sy die virus vir die eerste keer in haar matriekeindeksamen opgedoen.
In Januarie moet sy weer deur ’n plastiese chirurg geopereer word vir die wonde aan haar gesig en hande.
Haar linkerduim is byna afgekap in die voorval.
Daarbenewens moet sy nou begin studeer sodat sy in Januarie haar eksamen aan die Universiteit van Pretoria (UP) kan skryf.
Voordat sy nie haar eksamen geslaag het nie, kan sy nie vir haar honneursgraad in Februarie registreer nie.
“Dit is een helse nagmerrie. Ek was nog nooit ’n haatdraende mens nie. Nou wil ek nie enige man, ongeag sy ras, naby ons hê nie.
“Ek wens hulle wil my in haar aanvaller se sel toelaat sodat ek hom soos ’n stukkie polonie in repies kan sny,” het haar ma gesê.
Haar ma woon in Botswana, maar het haar werk laat vaar om vir eers by haar dogter te kom inwoon. Sy bly weer in die meenthuis waar sy aangeval is.
Volgens haar ma het vriende haar slaapkamer vir haar oorgedoen.
“Dit is nie nou vir ons moontlik om vir haar ’n ander blyplek te kry nie. My kind, wat drie jaar lank onafhanklik was, slaap nou snags saam met my in die bed. Wanneer sy wakker skrik, gryp sy my hand vas. Net God se krag dra ons deur dié hel,” het die ma gesê.
- Beeld