Verklaar nasionale krisis in onderrig – Jansen
2012-10-03 08:32
Kaapstad – Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het die regering gevra om 'n nasionale krisis in onderrig te verklaar, het die SABC berig.
Jansen het Dinsdagaand 'n toespraak gelewer tydens die vyfde jaarlikse Imam Haron-gedenklesing in Kaapstad. Hy het gesê dit is veral kinders van arm skole wat die meeste ly, en dít kan nie langer geduld word nie.
Jansen het gesê mense in politieke en professionele posisies weet nie hoe dringend dit geword het om gehalte-onderrig by arm skole te gee nie, aangesien hulle eie kinders na ryk instellings gaan.
"Kom ons stop vir 'n minuut, wat dink ons is ons besig om hier te doen? Omdat dit nie werk nie word skole ontwrig, skole word vir drie maande gesluit in die Oos- en Noord-Kaap. Die enigste mense wat hieronder ly is die mense in arm, swart stedelike en plattelandse skole. So ek dink dit is tyd om aandag hieraan te skenk as 'n nasionale krisis," het Jansen gesê.
Hy het gesê sosiale kontrakte moet tussen alle rolspelers, van leerders tot onderwysers, ouers en die regering, opgetrek word om 'n ketting van verantwoordelikheid te skep.
– SABC.
– Volg Nuus24 op Twitter.