Verkeersman vas ná hy jong kollega verkrag
2010-08-18 07:45
Volksblad
Welkom - ’n Welkomse verkeersman en seun van ’n raadslid van die Matjhabeng-munisipaliteit is hier in die streekhof vyf jaar tronk toe gestuur weens die gewelddadige verkragting van ’n jong kollega.
Andrew Modukanele Thlone (25), ook vredesbeampte van die munisipaliteit, hou egter vol dat die gemeenskap met toestemming was. Verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis is deur landdros T. Ramdeyal toegestaan.
Thlone is in hegtenis geneem nadat die jong vrou die oggend ná die verkeersdepartement se jaareindgeselligheid erg beseer en bebloed in sy huis in die woonbuurt Dagbreek wakker geword het.
Sy kon nie onthou wat met haar gebeur het nie. Sy en haar kollegas was almal onder die invloed van drank. Hulle het ná die jaareindgeselligheid by ’n klub in die stad verder gekuier voordat hulle na die huis is.
Haar beserings het daarop gedui dat sy gewelddadig verkrag is en forensiese getuienis in dié verband is deur die staat aangebied. Beserings aan haar gewrigte en bene het die polisie aanvanklik laat vermoed dat ’n tweede persoon betrokke was, wat haar vasgehou het en dat ’n tweede ook by die verkragting betrokke was.
Bloedtoetse is ook gedoen om vas te stel of sy ’n dwelmmiddel ingegee is, soos ook aanvanklik vermoed is, maar dit kon nie bewys word nie.
Volksblad het ná die inhegtenisneming berig dat Thlone en ’n manlike en vroulike kollega geskors is hangende die interne ondersoek teen hulle. Al drie het egter later weer begin werk en die saak teen die ander man en vrou is teruggetrek. Thlone is onder meer met DNS met die verkragting verbind.
Die gebeure was op 19 Desember 2008 net ná die verkeerskollege se jaareindgeselligheid toe van die studente en junior en senior verkeersbeamptes verder gekuier het.
Dié jong 24-jarige vrou het aan Volksblad gesê sy word met anti-retrovirale middels behandel en kry sielkundige berading.
Sy het ontsettende pyn verduur toe sy by die huis in Dagbreek wakker geword het.
“Ons was almal vriende en nou is hulle haatlik teenoor my omdat ek klagte ingedien het. Ek is nie rassisties nie, hulle was voorheen my vriende en ons was saam in die kollege.”
Ao. Yolanda Hulme van die polisie was die ondersoekbeampte.
Charmaine Labuschagne, beheeraanklaer in die hof vir seksuele misdrywe, sê die skuldigbevinding is ’n deurbraak vir vroue wat ook soos hul manlike kollegas wil uitgaan en ’n drankie geniet.
“Dit gee niemand die reg om hulle te verkrag nie. Die slagoffer het geen rede of motief gehad om leuens te vertel nie en geen vrou sal toestemming gee tot iets van dié gewelddadige aard nie. Daarbenewens is sy nog deur haar kollegas geviktimiseer ook.”
* Thlone, die seun van Lucy Thlone, ANC-raadslid van die Matjhabeng-munisipaliteit, is steeds in diens van die munisipaliteit se verkeersdepartement.
- Volksblad