Verkeersman geskors oor korrupsieklag
2010-07-15 07:42
Die Burger
Kaapstad – ’n Senior verkeersbeampte by die Gallows Hill-verkeersentrum in Groenpunt is geskors in verband met klagte van beweerde korrupsie.
Mikel Khumalo, woordvoerder van die munispale vakbond Samwu, het gister aan Die Burger gesê hulle het in April die stadsraad oor die bewerings genader. Daar is ook stawende bewyse aan die raad oorhandig.
Volgens hom het die raad nie gehoor gegee aan Samwu se versoek dat ’n eksterne forensiese ondersoek gedoen word nie. Daarna het Samwu die Valke genader.
Samwu beweer miljoene rande is betrokke.
Die verkeersbeampte, wie se naam aan Die Burger bekend is, het glo ’n sakeman toegelaat om gedurende Operasie Reclaim bankgewaarborgde tjeks op die plek waar padblokkades gehou is, uit te skryf vir mense wat by dié padblokkades in hegtenis geneem is en hulle dan ’n “hanteringsbedrag” van tussen R600 en R800 te vra. Die praktyk het glo al in Februarie verlede jaar begin.
By dié padblokkades mag verkeersbeamptes slegs bankgewaarborgde tjeks of kontant aanvaar. Die mense wat in hegtenis geneem word, is meestal motorbestuurders wat uitstaande lasbriewe het.
Lede van die publiek het gekla by verkeersbeamptes wat lede van Samwu is.
Khumalo het gesê as hulle nie druk op die stadsraad toegepas het nie, was die beampte seker nog by die verkeersdepartement werksaam.
Hy glo ook dat daar meer as een persoon betrokke is.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, het Khumalo se aantygings verwerp.
Hy het gesê die stadsraad kon die beampte nie skors voordat die ondersoek afgehandel is nie. Die raad se eksterne forensiese ondersoekeenheid – wat onafhanklik van alle raadswerksaamhede is – het die ondersoek gedoen.
Die ondersoek is nou afgehandel en daar is prima facie-bewyse gevind. Hy het bygevoeg dat die beampte nie finansieel daarby baat gevind het nie.
Smith het gesê Samwu het geen bewyse aan hulle oorhandig nie. “Hulle het eerder lede van die publiek wat gekla het se kontakbesonderhede en beëdigde verklarings van ons weerhou.”
Hy het gesê Samwu wou politieke munt slaan vir hul vriende in die polisie deur hulle toe te laat om ’n ondersoek teen die stadsraad te doen.
Beëdigde verklarings is volgens hom aan die Valke oorhandig.
Richard Bosman, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van veiligheid en sekerheid, het gesê die inhoud van die klagte teen die verkeersbeampte moet nog getoets word.
Die tugverhoor is vir 27 Julie geskeduleer.
Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het gesê hy het geen idee hoe ver die Valke se ondersoek gevorder het nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger