Verkeersbeampte klap glo swanger vrou
2010-03-01 08:43
Pietermaritzburg - 'n Hoogswanger motoris sê sy het die skok van haar lewe gekry toe 'n vroulike verkeersbeampte haar in haar gesig geklap het.
Dié voorval het Sondag gebeur toe Buyisiwe Makhoba omstreeks 06:00 oor 'n kruising tussen drawwers wat aan die Postnet Weekend Witness Maritzburg-maraton deelgeneem het, gery het, het sy gesê.
Volgens Makhoba was sy op pad werk toe, toe die verkeersbeampte haar deur die oop venster van haar motor klap.
Makhoba het gesê sy was aanvanklik nie seker of sy 'n klag van aanranding aanhangig moet maak nie omdat sy nie die verkeersbeampte se naam geken het nie. Sy het later wel besluit om 'n klag te lê.
Supt. Kwenza Khumalo, hoof van die Msunduzi-verkeersdepartement, het sy skok uitgespreek oor die voorval en gesê selfs al het Makhoba die instruksies van die verkeersbeampte verontagsaam, was daar geen rede om haar aan te rand nie.
"Ons is daar om die publiek te beskerm en te dien... Dit is onprofessionele en onaanvaarbare gedrag deur 'n verkeersbeampte. Ons sal die saak ondersoek."
– The Witness