Verkeersbeampte jaag glo teen 274 km/h in sy Merc
2010-07-06 08:44
Die Burger
Johannesburg - ’n Verkeersbeampte van Louis Trichardt is in hegtenis geneem toe hy die naweek glo 274 km/h in sy Mercedes-Benz C200 Kompressor op die N1 gejaag het.
Joe Munyai is Saterdag naby Bandelierkop op die N1 na Louis Trichardt vasgetrek. Dié deel van die N1 het net enkelbane en die spoedperk is 120km/h.
“Dit het gelyk of hy op Kyalami is,” het Clarissa Naidoo, woordvoerder van die provinsiale vervoerdepartement, gesê.
Volgens twee bronne is die motor se topspoed net 235km/h, het Marnus Hattingh, motorjoernalis van Media24, gesê.
Sowel Naidoo as Gordon Horn van die Limpopo-verkeersdepartement en lt.kol. Mohale Ramatseba, provinsiale polisiewoordvoerder, het egter gesê Munyai is teen 274km/h vasgetrek.
Dit is nie bekend of daar met die motor se enjin gepeuter is nie.
Munyai het Maandagoggend in die Bandelierkop-landdroshof verskyn. Ramatseba het gesê hy is op borgtog van R1000 vrygelaat. Hy moet Donderdag weer in die hof verskyn.
Louis Bobodi, woordvoerder van die Makhado-munisipaliteit, het gesê Munyai is nie geskors nie.
Pinkie Kekana, LUR vir vervoer, is volgens Naidoo baie ontsteld.
“Ons verwag van verkeersbeamptes om ambassadeurs van veilige padgebruik te wees,” het Naidoo gesê.
Die twee provinsiale verkeersbeamptes wat Munyai vasgetrek het, se patrolliemotor is met die nuwe bewegende oortredingsopnemer toegerus.
Dit stel verkeersbeamptes in staat om, terwyl hulle in hul motors ry, die spoed te bepaal van voertuie wat verby hulle ry.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger