Verkeersbeampte 'hits geweld teen boere aan'
2013-01-09 10:59
Johannesburg – Die Witzenberg-munisipaliteit in die Wes-Kaap ondersoek ‘n senior verkeersbeampte omdat hy na bewerig ‘n sosiale netwerk gebruik het om geweld teen boere aan te hits.
CensorBugbear.org, wat beweer dat Afrikaners slagoffers van volksmoord is, het die beampte se uitlatings aangehaal.
“Ai, dit lyk my ons moet weer die AK47 optel hie in die f*kken Wes-Kaap. Ek is nou gatvol van die boere en die DA (sic),” het hy na bewering geskryf.
Die kommentaar het voortgeduur: “Die f*kken boere weet wie ons leiers is en nou word ons leiers getarget.”
Hy het bygevoeg dat die DA die Wes-Kaap ‘n provinsie vir “boere” wil maak.
Die betrokke munisipaliteit dek Bela Vista, Ceres, Tulbagh en Wolseley.
Die beampte se beweerde uitlatings kom te midde van spanning in Ceres se vrugtegebied, waar werkers oor hul lone staak.
Witzenberg se munisipale bestuurder, David Nasson, en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) ondersoek die klag wat teen die verkeersbeampte ingedien is.
Hy is nog nie amptelik aangekla nie en is steeds aan diens.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA