Verkeersbeampte by sjebeen doodgeskiet
2012-02-05 17:48
Johannesburg – ‘n Man – vermoedelik ‘n verkeersbeampte wat nie aan diens was nie – is in ‘n sjebeen in Protea Glen in Soweto doodgeskiet, het die Gautengse polisie gesê.
Daar word vermoed dat die oorledene ‘n verkeersbeampte was wat nie aan diens was nie.
Ao. Kay Makhubela sê ‘n groep van sewe mans was Saterdagoggend by die sjebeen toe twee van hulle oor ‘n vrou begin argumenteer het.
“Die verkeersbeampte het probeer om die mans uitmekaar te kry toe een van die sewe ‘n vuurwapen uitgeruk en hom geskiet het. Ons het daarin geslaag om vyf van die sewe in hegtenis te neem...” het Makhubela gesê.
Makhubela sê van die verdagtes is Saterdagaand vasgetrek en sommige is Sondag aangekeer.
Die polisie is nog op soek na twee mense.
“... Een van die verdagtes is na die hospitaal geneem ná hy geskiet is. Ons weet nie hoe hy geskiet is nie, maar hy het waarskynlik weggehardloop toe hy besef dat hy in hegtenis geneem sou word.”
Die vyf mans sal Maandag in die Protea-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA