Verkeerde vrou kry haatboodskappe oor hond se hel
2011-08-30 08:13
Pretoria – Seuntjie, die worshond wat byna bokveld toe is nadat hy ’n onbekende dosis Cat ingekry het, het ’n storm laat losbars oor ’n onskuldige Carlien Crous.
’n Radelose Crous het Die Burger Maandag gekontak en gesê sy het sedert die publikasie van die berig verskeie haatboodskappe op Facebook gekry.
“Ek is nie dáárdie Carlien Crous nie. Omdat ek die enigste Carlien Crous met dieselfde spelling op Facebook is, neem mense sommer aan dit is ék wat die worshond mishandel het.”
Crous en haar verloofde, Clayton Beck, woon in Springs en sy is ook vyf maande swanger.
“Ons het ons eie hond en is baie lief vir hom,” het sy gesê. “Mense moet versigtig wees met die aannames wat hulle maak.”
Seuntjie se eienaar, Carlien Crous van Doringkloof, Centurion, het die worshond Saterdagoggend by die Tshwane-dierebeskermingsvereniging (DBV) gaan haal.
Volgens Rick Allan van die Tshwane-DBV kan die hond nie van haar weerhou word nie, aangesien sy nie die persoon is wat hom mishandel het nie.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, ’n polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie ondersoek ’n saak van dieremishandeling en die toediening van ’n “giftige middel”.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en ’n formele klag is nog nie ingedien nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger