Vergewe Kotzé pleit Tutu
2012-01-19 07:01
Pretoria – Hou op om na Johan Kotzé as die “monster van Modimolle” te verwys.
Dié pleidooi is gedoen deur emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu in ’n skrywe wat hy aan The Star gerig het.
Kotzé staan tereg op verskeie aanklagte, onder meer dat hy drie werkers gedwing het om Ina Bonnette, sy vervreemde vrou, te verkrag en dat hy haar seun vermoor het.
Tutu sê mense is met reg met weersin vervul deur dié dade. Hy het dit bestempel as “onmenslik”, “barbaars” en “monsteragtig”.
Wat Tutu egter ontstel, is dat die woede oor dié dade daartoe gelei het dat Kotzé nou die “monster van Modimolle” genoem word.
Al is hy skuldig aan onmenslike en monsteragtige dade, is hy nie ’n monster nie, sê Tutu.
Volgens hom bly Kotzé ’n “kind van God met die moontlikheid om ’n heilige te word”.
By navraag oor wat hy bedoel met die term “kind van God”, het Tutu verwys na die verlore seun wat sy pa se kind gebly het, al het hy hoe ver afgedwaal.
Hy het ook verwys daarna dat mense na die beeld van God geskape is en gesê die ergste sonde vernietig dit nie.
Tutu het ’n beroep op Christene gedoen om die verhaal te onthou van die rower aan die kruis wat op grond van sy berou deur Jesus Christus die paradys beloof is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld