"Vergeef Manto vir haar foute"
2009-12-16 20:49
Johannesburg - Die voormalige minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, het foute gemaak soos enigiemand anders en moet vergewe word, het Cosatu Woensdag ná haar dood gesê.
Tshabalala-Msimang is Woensdagmiddag vanweë komplikasie wat verband hou met ‘n leweroorplanting wat sy in 2007 ondergaan het, dood.
Sidumo Dlamini, president van Cosatu, het die nuus van haar dood as skokkend beskryf.
"Sy het sekere foute gemaak maar sy was ‘n mens. Suid-Afrikaners het ‘n groot leier in die ANC verloor,” het Dlamini gesê.
Volgens hom moet mense haar vergewe vir haar foute.
Die ANC het Tshabalala-Msimang beskryf as iemand wat geveg het vir geregtigheid en demokrasie.
“Manto het haar lewe aan die stryd vir demokrasie in Suid-Afrika gewy,” het woordvoerder Jackson Mthembu gesê.
Volgens Mthembu het haar dood die ANC van ‘n toegewyde lid geroof.
Die Jong Kommuniste-liga (YCL) het ook hul meegevoel met die dood van Tshabalala-Msimang bekendgemaak.
Gugu Ndima, woordvoerder van die YCL, het gesê dat alhoewel die YCL van Tshabalala-Msimang se opinies oor MIV en Vigs verkil het, hulle haar vir die rol wat sy tydens die stryd teen apartheid gespeel het, respekteer.
Die IVP het ook skok en meegevoel met Tshabalala-Msimang se dood uitgepreek.
“Ons het die nuus van haar dood met skok ontvang,” het Musa Zondi, woordvoerder vir die IVP gesê.
Die IVP het hul meegevoel met haar familie en veral haar man, Mendi Msimang, en kinders uitgepreek.
- Sapa