Vergadering oor omstrede mediawet uitgestel
2010-08-12 12:30
Kaapstad - Die minister van staatsveiligheid, Siyabonga Cwele, het gevra vir meer tyd om voorleggings in verband met die voorgenome Wet op die Beskerming van Inligting te oorweeg.
Dit beteken dat die spesiale parlementêre vergadering oor die wet, wat vir Vrydag 13 Augustus beplan is, met twee of drie weke uitgestel gaan word.
Die ministerie het vandag gesê dit het debat oor die omstrede wet “met belangstelling gevolg” en dat baie voorleggings ontvang is.
Meer tyd is nodig om daaraan aandag te skenk.
Die September-sperdatum vir die finalisering van die wet kan dalk ook uitgestel word.
Die wet het die afgelope maand onder heftige kritiek deurgeloop. Verskeie belangegroepe wat hulle vir demokrasie beywer en rolspelers in die media het dit as “drakonies” en “ongrondwetlik” beskryf .
Hulle wou by die vergadering daarop aandring dat die wetsontwerp onttrek en herskryf moet word.
Ander belangegroepe, waaronder die vakverbond Cosatu en die Menseregtekommissie, het ook vroeër vandeesmaand aangevoer die regering sal die voorgestelde wet kan misbruik om korrupsie toe te smeer en om ondersoekende joernalistiek te dwarsboom.
Volg Nuus24 op Twitter.