Verduidelik Zuma, vra boere
2009-08-18 16:34
Bloemfontein - Kommersiële boere dring daarop aan dat pres. Jacob Zuma moet verduidelik wat hy bedoel het met sy kommentaar oor die vrywillige koper/verkoper-beginsel ten opsigte van grondhervorming.
Dít is volgens Johannes Moller, Agri SA se president, na Zuma se kommentaar dat die regering opsoek is na ‘n meer “pragmatiese” formule vir grondhervorming.
Zuma is aangehaal waar hy sê; “Gewigtige verandering moet aan die vrywillige koper/verkoper-beginsel gemaak word.”
“As die president wil hê ons moet meer pragmatiese modelle ontwikkel sal ons, maar as hy bedoel dat die pryse gemanipuleer moet word sal ons verseker ‘n probleem daarmee hê,” het Moller in ‘n verklaring gesê.
Na verwagting sal daar volgende Maandag ‘n vergadering tussen Agri SA en die Landbank plaasvind.
“Ten spyte van die feit dat die Landbank minder krediet aan kommersiële landbou verskaf is sowat R5 miljard (12%) van die landbou-skuld steeds by hulle,” het Moller gesê.
Moller het ook bygevoeg dat die Landbank ‘n belangrike rolspeler is in die finansiëring van landbou.
Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder oor Landbou en Grondsake vir die Vryheidsfront Plus, het hom ook uitgelaat oor Zuma se kommentaar.
“Om grondhervorming te laat slaag moet die regering eers bestaande onbenutte staatsgrond herverdeel. Dan moet daar behoorlik beheer wees oor bestaande grondhervormingsprojekte. Die vrywillige koper/verkoper-beginsel word misbruik om onbevoegdheid te verbloem,” het Groenewald gesê.
– Sapa