Verdagtes in hof ná verkragting van dokter
2010-11-01 19:54
Bloemfontein – ‘n 16-Jarige seun en twee mans het in die hof op Bloemfontein verskyn nadat ‘n dokter oor die naweek by die Pelonomi-hospitaal aangeval en verkrag is.
Die twee mans, 24 en 29, en die seun staar aanklagtes van poging tot moord en aanranding in die gesig. Hul saak is tot 9 November uitgestel.
Die 35-jarige dokter was ten tyde van die voorval aan diens. Sy was Saterdag omstreeks 02:00 op pad na die neonatale eenheid op die grondvloer toe drie mans haar op ’n donker trap oorval en met ’n baksteen in die gesig geslaan het.
Al drie aanvallers het haar verkrag.
Volgens die polisie het een van die aanvallers glo sy beursie op die toneel agtergelaat.
Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) het hul skok oor die voorval uitgespreek.
Dr. Norman Mabasa, voorsitter van die vereniging, het ‘n beroep op alle owerhede gedoen om hul sekuriteit by alle publieke instellings vir alle gesondheidswerkers op te skerp.
- Volg Nuus24 op Twitter.