Verdagtes in gru-moord vir eers vry
2013-02-06 08:04
Johannesburg – Twee mans wat verdink word van die gru-moord op 'n broer en suster in Northcliff is deur die Johannesburgse landdroshof op borgtog vrygelaat, het The Star Woensdag berig.
Kenneth Schroder, 53, en Paul Mundel, 39, is elk borgtog van R15 000 toegestaan.
Gary Smith en Karen Buchanan is in Maart 2008 in hulle huis in Northcliff vermoor. Hulle is vasgebind, hulle tande is uitgetrek en veerpylties is na hulle gegooi. Buchanan is verkrag, en albei is daarna doodgeskiet.
Die verdagtes staan tereg op aanklagte van moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede en die besit van 'n vuurwapen.
Landdros Paul du Plessis het volgens The Star gesê die beskuldigdes is nie 'n vlugrisiko nie, en dat hulle waarskynlik nie met getuies sal kontak maak nie.
Du Plessis het erken dat die oortredings ernstig is, maar het ook gesê "geregtigheid werk nie op emosies nie, maar binne die perke van die wet...".
Hy het ook die geloofwaardigheid van die twee getuies wat Schroder en Mundel verlede Desember met die moord verbind het, in twyfel getrek.
"(Die vraag) is wanneer, hoe en waarom hierdie aantygings gemaak is as dit tot (suksesvolle vervolging) kan lei. Die geloofwaardigheid van die getuies moet as verdag beskou word, en kan selfs as onwaar beskryf word...".
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA