Verdagte vas ná kaping
2010-01-27 20:51
Johannesburg – ‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy en ‘n medepligtige glo Woensdag ‘n voertuig in Randburg gekaap het, het die polisie gesê.
Volgens insp. Kym Cloete het die mans ‘n Discovery 4 Landrover van die Landrover perseel gekaap.
“Hulle het probeer om die bestuurder na die passasierskant te skuif, maar hy het dit reggekry om te ontsnap. Die verdagtes het toe weggejaag met die voertuig.”
Werknemers van Landrover het die kapers agterna gesit, met ‘n sekuriteitsvoertuig wat kort op hul hakke was. Die sekuriteitsvoertuig het die kapers gestop, en ‘n oor en weer skietery het uitgebreek, het Cloete gesê.
Die mans het die voertuig in verskillende rigtings verlaat, maar werknemers van Landrover en die publiek kon een van die verdagtes aankeer.
Die motor is teruggevind, en niemand is in die skietvoorval beseer nie.
Die man sal binnekort in die Randburg-landdroshof verskyn.
Die tweede verdagte is steeds soek.
- Sapa