Verdagte in sluipmoord-poging 'dodelik siek'
2011-03-08 08:51
Bethlehem - Jessie Ramakatane, vermeende groot gees agter die vroeëre mislukte sluipmoordpoging op die premier van Lesotho, is glo “dodelik siek”.
Ramakatane se regsverteenwoordiger, adv. Paul Shapiro, het Maandag aan die streekhof op Bethlehem ’n mediese verslag voorgehou dat Ramakatane se bene verskriklik geswel is en hy dringend ’n operasie moet ondergaan.
Shapiro het telkens beklemtoon hoe ernstig sy kliënt se toestand is en gesê Ramakatane “sal dit dalk nie maak nie”.
Ramakatane moes Maandag, Dinsdag en Woensdag hier in die hof verskyn sodat daar ’n uitspraak kon wees oor sy uitlewering aan Lesotho. Hy is na bewering die aanvoorder van die sluipmoordpoging op die Lesotho-premier, Pakalitha Mosisili, op 22 April 2009.
Volgens Shapiro is Ramakatane in die hospitaal en kon hy nie die verhoor bywoon nie. Shapiro kon nie sê wanneer Ramakatane in die hospitaal opgeneem is nie en ook nie waar nie.
Shapiro het die hof gevra vir uitstel tot 15 Junie sodat sy kliënt teenwoordig kan wees.
Adv. Jannie Botha, vir die staat, het gesê dit is duidelik Ramakatane “speel met die hof”. Hy het die hof gevra om ’n lasbrief uit te reik vir sy inhegtenisneming binne 14 dae.
Botha het verder gevra dat Ramakatane die staat se regskoste moet dra omdat hy, deur sy regverteenwoordiger, die hof te laat oor sy afwesigheid ingelig het.
Shapiro het heftig hierop gereageer en Botha daarvan beskuldig dat hy geensins objektief is nie en geen gevoel het vir Ramakatane wat dodelik siek is nie.
Hy het aan streeklanddros Phillip Visser gevra dat Botha vervang moet word.
“Sy (Botha se) houding is ongelooflik en oorskry die grense. Hy sit met ’n grinnik op sy gesig en maak uitsprake oor my kliënt. Dis ongehoord.”
Visser het Shapiro gevra om op te hou met sy “side shows” en die hof vir ’n paar minute verdaag sodat Shapiro kon uitvind in watter hospitaal Ramakatane hom bevind.
Shapiro sou by Ramakatane se vrou, wat ook die verhoor bygewoon het, uitvind.
Toe die verhoor hervat, het Shapiro gesê Ramakatane se vrou was eergisteraand in ’n erge motorongeluk en is nie in staat om behoorlike inligting te gee nie.
Visser het gesê Shapiro se bewyse is nie goed genoeg nie. Die mediese sertifikaat oor Ramakatane se toestand is volgens Visser onduidelik en “lyk soos ’n voorskrif wat ’n apteker uitgeskryf het”.
Visser het die verhoor tot vanoggend uitgestel sodat Shapiro ’n behoorlike mediese sertifikaat oor Ramakatane se toestand kan voorlê. Hy moet ook bewys lewer dat Ramakatane wel in die hospitaal is.
Die verhoor duur voort.
- Volksblad