‘Verdagte in Louise-moord het nog nie bekentenis gemaak’
2011-10-15 16:00
Kaapstad – Die polisie het Saterdag berigte ontken dat die man, wat in verband met die ontvoering en moord van Louise de Waal in hegtenis geneem is, erken het hy is die “Sondagverkragter.”
“Ek kan dit nie bevestig nie,” het ao. Peet Du Toit, ondersoekbeampte, Saterdag gesê.
Du Toit het wel gesê daar is ‘n sterk moontlikheid dat die 35-jarige man wel die "Sondagverkragter" is. Die "Sondagverkragter" het 'n hele paar meisies onder meer in Rustenburg, Vanderbijlpark, Potchefstroom, Pretoria-Wes, Carletonville, Krugersdorp-Wes, Roodepoort en Hekpoort verkrag.
“Ons is besig om alle leidrade op te volg maar daar is ‘n sterk moontlikheid. Ons sal eers Maandag kan bevestig wanneer hy in die hof verskyn,” het Du Toit gesê.
Die man, wat tans in polisieaanhouding is, het Woensdagoggend die 17-jarige De Waal in Roodepoort, noordwes van Johannesburg ontvoer. Haar gebrande lyk is later dieselfde dag op ‘n plaas in Magaliesburg gevind.
Die man het homself Donderdagoggend aan die polisie in KwaZulu-Natal oorgegee. Hy is tans onder polisiebewaking by ‘n onbekende bestemming in Johannesburg.
Hy is in 2007 skuldig bevind van seksuele mishandeling en is tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Sy vonnis is vir drie jaar opgeskort en hy moes gemeenskapsdiens doen.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA