Verdagte in Anene se dood voorheen gevonnis
2013-02-27 07:10
Johannesburg – Die borgtogaansoek van een van die twee mans wat daarvan verdink word dat hulle Anene Booysen verkrag en vermoor het, duur Woensdag 'n tweede dag in die Bredasdorp-landdroshof voort.
Jonathan Davids, 22, het Dinsdag onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Hy en Johannes Kana, 21, word daarvan beskuldig dat hulle Booysen, 17, op 2 Februarie verkrag, vermink en vermoor het.
Kana het nog nie gepleit nie, en sal na verwagting later om borgtog aansoek doen.
Die hof het Dinsdag gehoor dat Davids verlede Februarie aan diefstal skuldig bevind is, en dat hy 'n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê is.
Drie sake van aanranding is ook vroeër teen hom laat vaar in Bredasdorp, in September 2007, Januarie 2008 en Oktober 2011.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA