Verbod op volstruis-uitvoere in SA
2011-04-15 17:00
Kaapstad – Suid-Afrikaanse volstruis-uitvoere na die Europese Unie is opgeskort nadat voëlgriep by voëls in die Wes-Kaap opgemerk is, het die provinsiale departement van landbou Vrydag gesê.
Wouter Kriel, 'n woordvoerder, het gesê die H5N2-virus is oorspronklik op vyf plase in die Oudtshoorn-gebied opgemerk.
"Die voëls sal van kant gemaak word om te verhoed dat die virus verder versprei. Dit sal so gou as moontlik gedoen word," het Kriel gesê.
"Dit is 'n virus wat deur voëls versprei word. Jy kan nie eintlik die voëls verhoed om tussen die ander diere op jou plaas te kom nie."
Kriel het gesê die H5N2 hou nie 'n bedreiging vir die mens in nie.
In lyn met internasionale protokol is die uitbraak by die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie (OIE) in Parys gerapporteer.
Luidens 'n kennisgewing op die OIE se webwerf, was 5754 diere vatbaar vir die virus, 100 gevalle aangemeld en 100 vrektes aangemeld.
Die uitbraak word tot die Wes-Kaap beperk.
Die bedryf, wat 20 000 mense in die gebied onderhou, het tot stilstand gekom.
Kriel het gesê die provinsiale regering is in samesprekings met sy nasionale eweknie om die boer wat deur die uitbraak geraak is, te vergoed.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA