Verblyf-warboel voor ANC-fees
2011-12-31 07:42
Bloemfontein. – Met net vier dae oor voordat die ANC se eeufeesviering hier begin, lei die verblyfreëlings vir die besoekende staatshoofde tot yslike kwellings.
Inwoners van die Woodland Hills-landgoed wat R25 000 tot R50 000 per dag vra om staatshoofde te huisves, is die hoenders in omdat die ANC nie by die sperdatums vir die betalings vir die huise gehou het nie.
Die sperdatums 13 en 28 Desember het verstryk en die senior ANC-amptenaar wat van Johannesburg sou vlieg om nuwe kontrakte te sluit, het die afgelope twee dae sy vlug verpas, is gister verneem.
Inwoners wat tot R40 000 bestee het om hul huise op voorskrif van die ANC te verf en gereed te kry, is bekommerd oor of hul huise steeds gehuur gaan word.
Intussen word verneem inwoners van die luukse Oubos-landgoed naby Noordstad is tussen R100 000 en R200 000 per dag vir hul huise aangebied, maar dring weens die Woodland Hills-probleme daarop aan om vooruit betaal te word.
Die huise in Oubos is tussen R4 miljoen en R5 miljoen werd en is glo gekies vir die belangrikste besoekende staatslui.
Oelof Visser, ’n sakeman en inwoner van Oubos, het gesê die ANC het hom genader om sy huis te verhuur.
“Ek het daarop aangedring dat die huurgeld vooruit betaal word, anders is daar geen ooreenkoms nie,” het hy gesê.
Die ANC het nie na hom teruggekom met ’n aanbod nie.
Die party is ook steeds gewikkel in onderhandelings om sportvelde te bekom waar tente opgeslaan kan word.
Hoewel die ANC self nie tente gaan opslaan nie, het Thabo Manyoni, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, gesê afgevaardigdes van Noordwes bring byvoorbeeld hul eie tente vir die partytjie.
Manyoni het vroeër ’n beroep op boere om die stad gedoen om hul plase beskikbaar te stel.
Johan Volsteedt, hoof van Grey-kollege, het gesê die ANC wou van die skool se geriewe vir die viering gebruik. “Ons moes dit afkeur, want ons bied ’n kriekettoernooi hier aan.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld