Verandering ‘is pynlik’ - Jansen
2010-03-18 10:56
Marelize Potgieter, Die Burger
Kaapstad-Om ’n universiteit op die pad van transformasie te kan lei, is dit nodig om te verstaan dat daar ’n gaping tussen swart en wit studente is.
Só het prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), in ’n gesprek tussen hom en die visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK), dr. Max Price, oor leierskap en transformasie, gesê.
Leiers moet die vermoë hê om hulself met die pyn van verskillende rassegroepe te vereenselwig.
“Eers dan sal ons kan leer om saam te wees, saam te leer en uiteindelik om mekaar lief te hê.”
Volgens Price is die uitdagings vir leiers van tradisoneel wit Afrikaanse universiteite aansienlik anders as dié van tradisoneel liberale Engelse universiteite.
Omdat die toelatingsvereistes vir wit studente aan die UK besonder hoog is en verskil van dié vir swart studente, lok dit oor die algemeen wit studente met uitsonderlik hoë akademiese vermoëns.
Dit veroorsaak dat ’n tipiese klas in byvoorbeeld die regsfakulteit grotendeels deur vrae en menings van wit studente oorheers word.
“Swart studente voel geïntimideer en kom skugter en sonder ’n mening voor. Dit is die begin van ’n stereotipe wat gevorm word.”
Die groter probleem wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die differensiasie tussen klasse die eintlike verwydering bring.
Bevoorregte swart studente wat in topskole was en aan die universiteit studeer, sal makliker met wit studente bevriend raak.
Studente wat uit township-skole kom, het nie noodwendig die geld om saam met ryk wit studente uit te gaan vir drankies nie en hou eerder by die koshuis partytjie.
Talle studente wat tans aan die universiteit studeer se ouers en grootouers was Kovsies en wanneer hulle moet transformeer, voel dit of hulle ’n deel van hul herkoms prysgee.
- Die Burger