Verander Pretoria vir almal – koningshuis
2010-03-13 22:30
Pretoria – Diegene wat teen die naamsverandering van Pretoria na Tshwane is, moet hul posisie tot voordeel van almal heroorweeg, het die uitvoerende komitee van die Tshwane-koningshuis Saterdag gesê.
“Ons wil die saak afhandel...die ding sloer nou al te lank,” het die adjunkvoorsitter, Peter Tshoane, gesê ná ‘n komiteevergadering in Hammanskraal.
Tshoane het die minister van kuns en kultuur, Lulu Xingwana, kritiseer omdat sy die naam Tshwane uit die Staatskoerant onttrek het.
“Die koningshuis soek antwoorde oor hoekom dit gedoen is sonder behoorlike konsultasie met die Tshwane-afstammelinge,” het Tshoane gesê.
Die kennisgewing is geplaas ‘n dag ná die adjunkminister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, ‘n mediakonferensie gekanselleer het om die nuwe geografiese name vir sekere gebiede in die land aan te kondig.
Dít was ‘n oorwinning vir die VF+ wat gesê het die besluit om die aankondiging te onttrek, bewys dat Afrikaners steeds 'n bietjie gewig dra.
Tshoane het egter gesê die regering moet besluit of hy die politiese wilskrag het om die waardigheid van diegene wie se menslikheid voorheen van hulle ontneem is, te herstel.
Die koningshuis het gesê ‘n vergadering sal op 10 April gehou word om die saak verder te bespreek.
– Sapa