Veldbrande laat talle dakloos
2010-01-07 12:43
Johannesburg - Sowat 60 huise is verwoes na veldbrande deur die Kwanokuthula-nedersetting naby Plettenberg Baai, gewoed het.
“Die brande het al Dinsdag begin, maar het op daardie stadium nie veel bedreiging ingehou nie,” het Thomas Nqolo, Bitou se direkteur van administrasie, gesê.
“Die brande het eers gevaarlik geraak toe ‘n sterk wind dit in die rigting van Kwanokuthula en Ladywood begin waai het.”
Vyf-en-dertig huise en agterplaas-pondokke is verwoes.
Brandweermanne sowel as helikopters van die naburige munisipaliteite is ingeroep om die vuur te help blus.
“Die helikopters het om twee-uur die middag (Woensdag) aangekom en die brand is vinnig onder beheer gebring,” het Nqolo gesê.
Veldbrande is algemeen hierdie tyd van die jaar, maar volgens Nqolo is toestande aansienlik erger as gevolg van droogte in die distrik.
- Sapa