Veldbrande by Knysna is dalk gestig, sê kenner
2010-02-11 11:03
Jackie Kruger
Knysna - Die moontlikheid word ondersoek dat brande wat sedert die naweek meer as 2 000 ha bome en ander plantegroei rondom Knysna verwoes het, doelbewus gestig is.
Dié inligting is Woensdag deur Charl Botha, rampbestuur-koördineerder by die Knysna-munisipaliteit, op ’n spesiale nuuskonferensie in die Knysna-brandweerstasie bevestig.
Brandspanne het Woensdag steeds gespook om ’n brand te bestry wat Saterdagaand in die Homtinipas uitgebreek het.
Geen strukture is beskadig nie, maar twee brandslaners is vir onderskeidelik minder ernstige brandwonde en ’n voetbesering behandel nadat ’n doring deur een van die mans se stewels gesteek het.
Twee weermaghelikopters was Woensdag op bystand, terwyl drie brandspanne met altesame 177 mense in skofte van 12 uur die vlamme probeer blus het. Die brand het oor sowat 10 km van kommersiële plantasies gewoed en is vandeesweek deur buitengewoon hoë temperature aangehelp. Brandbane is gemaak. Hoofsaaklik fynbos, gras en uitheemse bome het gebrand.
“Die weer is onvoorspelbaar. Die vlamme staan plek-plek weer op, al was dit vroeër onder beheer. Ligte reën het plek-plek verligting gebring, maar dit is nie genoeg om die brand te blus nie,” het Botha gister gesê.
Volgens hom word die moontlikheid van brandstigting ondersoek. “Ons sal optree indien dit wel die geval is.”
Botha het gesê die brandbestryding kan die munisipaliteit miljoene uit die sak jaag. In ’n stadium het tot nege brande die naweek in die omgewing gewoed.
Weermag- en Werk met Vuur-personeel sal waarskynlik nog tot die naweek op die sportterrein van die Hoërskool Knysna geakkommodeer word. Die gemeenskap het ruim bygedra om brandspanne kos te gee, het Hein Gilomee, eienaar van ’n plaaslike vulstasie, gister gesê.
Volgens maj. André Scheepers, ’n vlieënier, word die helikopters slegs ontplooi wanneer brandspanne nie hond haaraf maak nie.
Volgens Leanne Mckrill van Werk met Vuur was die brande in Stilbaai, Kranshoek en Fisantehoek (Plettenbergbaai) Woensdag onder beheer en word nog een by Haarlem gemonitor. Maatreëls word getref om te voorkom dat die brande na die Oos-Kaap versprei.
- Die Burger