Veiligheidswagte by King Shaka-lughawe staak
2010-08-15 22:23
Kaapstad - Ongeveer 100 veiligheidswagte by die King Shaka Internasionale Lughawe naby Durban, het begin staak, het RSG berig.
Die werkers is in 'n geskil met die werkgewer, Checkport Avsec Security, omdat hulle R400 moet betaal vir mediese ondersoeke.
Die wagte sê die maatskappy het hulle vorms gegee om in te vul, waarin daar uiteengesit word dat hulle vir 'n mediese ondersoek en 'n keuringsertifikaat sal moet betaal.
Dié ondersoek en sertifikaat word deur die Burgerlugvaartowerheid vereis. Die wagte sê dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om vir die ondersoeke te betaal.
Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het passasiers intussen verseker dat bedrywighede soos normaal sal voortgaan.
Die maatskappy sê die polisie en ACSA se veiligheidspersoneel beman veiligheidspunte.
Collin Naidoo, 'n woordvoerder van ACSA, sê daar is geen betogings by die lughawe self nie. Hy sê die werkers en die werkgewer sal binnekort vergader.
- Volg Nuus24 op Twitter.