Veiligheid topprioriteit by parlementsopening
2013-02-14 18:07
Kaapstad – Van die land se vooraanstaande politici het by die parlement aangekom om pres. Jacob Zuma se staatsrede by te woon.
Die SABC het vroeër berig die koste van die parlementsopening sal R6,8 miljoen beloop.
Volgens die sekretaris van die parlement is die koste van die geleentheid aan verskeie faktore te wyte, onder meer bemarking, veiligheidsmaatreëls, vervoer en etes.
Veiligheidsmaatreëls het vanjaar besondere aandag geniet omdat dit verlede jaar glo gebrekkig was.
"Hulle was nie gelukkig met verlede jaar se sekerheidsmaatreëls nie, en hulle het dit verbeter vir hierdie een," het 'n bron wat nie sy identiteit bekend wou maak nie, aan Sapa gesê.
Die aantal metaalverklikkers by ingange is verhoog, wat lang rye by sommige ingange tot gevolg gehad het. Gaste is gevra om hulle sakke leeg te maak.
Zuma het verlede Vrydag ook aan LP's gesê hy het 168 weermaglede laat ontplooi vir Donderdag se staatsrede.
Die president sal in sy toespraak na verwagting die land se vyf prioriteite aanraak – onderwys, gesondheid, werkskepping, die stryd teen misdaad, asook landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Volg Nuus24 op Twitter