Veghonde verskeur byna werker
2010-06-25 06:22
Hilda Fourie, Beeld
Gauteng - 'n Man is in die kuit gebyt en sy werknemer in die nek toe drie Amerikaanse veghonde hulle Donderdagoggend in Rietondale, Pretoria, aangeval het.
Alieda Blignaut (36) was in trane toe lede van die Tshwane-metropolisie en -Dierebeskermingsvereniging haar honde verwyder het.
Maar inwoners was verlig omdat die honde volgens hulle al ’n geruime tyd probleme in die omgewing veroorsaak.
Frank Pringle (66) en sy werknemer, wat net as Carlos bekend is, het Donderdagoggend herstelwerk gedoen aan ’n woonstel wat aan Blignaut se huis grens.
Pringle is ná die voorval in die Moot-hospitaal opgeneem.
Hy het aan sy dogter, Samantha van Niekerk, vertel hy en Carlos het by die erf ingegaan.
“Toe hulle in die motorhuis kom, het die honde Carlos bestorm,” het Van Niekerk gesê.
“Carlos het geval en die honde het hom aangeval. My pa het die honde van Carlos probeer aftrek, maar toe word hy ook gebyt.”
Volgens Van Niekerk is haar pa in albei bene gebyt, terwyl Carlos se arm, lieste en voete gebyt is. Carlos is in die Steve Biko-hospitaal opgeneem.
Blignaut het gesê: “Ek het vir die oom gesê om my te roep as hy wil uitkom sodat ek saam met hom kan uitloop. Toe kom die oom uit.
“Ek was binne met die kinders besig toe ek ’n commotion buite gehoor het. Toe ek buite kom, het die swart man op die grond gelê en twee van die honde was op hom. Die oom het die honde met ’n pyp geslaan om hulle van die man af te kry,” het sy gesê.
“Ek het hulle afgehaal en in die sitkamer gesit. Die oom is ook gebyt, maar hulle het albei hier uitgeloop.”
Blignaut se buurvrou, Tebogo Malete, het gesê sy en haar man, Henry, het ’n harde skree gehoor, buitentoe gehardloop en gesien hoe Pringle die honde van Carlos probeer afkry.
“Die swart man het geskree: ‘Help’ en ‘Die honde maak my dood’,” het Malete gesê.
“Ons het die honde met water gegooi en geskree, maar dit het nie gehelp nie. Dit was die wreedste aanval wat ek nog gesien het.”
Malete het ’n waarskuwingskoot geskiet.
Volgens lede van die gemeenskap het die honde al verskeie kere uitgekom en drawwers in die straat aangeval nadat ’n hek of ’n motorhuisdeur oopgelos is.
Blignaut het ontken dat haar honde al ooit buite haar erf was of mense se lewe in gevaar gestel het.
“My honde het nog nooit iemand gebyt nie. Hulle slaap saam met my in die huis.”
Die polisie ondersoek volgens sers. Lynnette Erasmus, woordvoerder, ’n saak van onvermoë om ’n kwaai hond in te hou.
Sr.supt. Alta Fourie, metropolisiewoordvoerder, het gesê die hof sal ná ’n verhoor oor die honde se toekoms besluit.
- Beeld