Veearts pleeg selfmoord met dieregif
2011-11-30 07:07
Johannesburg – ’n Veearts van Meyerton het Saterdag in sy praktyk selfmoord gepleeg deur homself in te spuit met ’n middel wat gebruik word om diere mee van kant te maak.
Dr. Lodie le Grange (56) was blykbaar ’n depressielyer.
Beeld verneem sy oudste dogter het op sy lyk afgekom by sy praktyk, die Meyerton-dierekliniek.
“Die skok tref sy vrou en kinders dag vir dag meer en meer. Die kinders is erg onder druk. Hulle is kwaad. Hulle huil,” het ’n familievriend gister gesê.
Niemand het dit van die joviale mens verwag nie.
“Hy was ’n geliefde mens. Ons kan dit nie glo nie.”
Le Grange se vrou, Ronel, het Dinsdag gesê: “Dit is baie, baie moeilik. Ek wil dit nie oor en oor vertel nie ... Ek gaan nou die sielkundige sien.”
Le Grange het 26 jaar lank as veearts in Meyerton gewerk.
“Hy was ’n baie intelligente man met ’n besonderse karakter,” het ’n vriendin gesê.
“Hy was ’n interessante mens ... Die nuus van sy selfmoord is rêrig baie hartseer vir almal.”
Volgens vriende was Le Grange ook ’n kranige sportman.
“As hy iets aangepak het, het hy dit voluit gedoen. Hy was briljant in sy veld. Hy het almal met deernis behandel en jou altyd ingeroep vir ’n koppie tee by sy praktyk.
“Hy het sy kinders ook van diere en veeartsenykunde geleer. Hy was ’n goeie dokter.”
Le Grange laat sy vrou, drie dogters en ’n seun agter.
Die jongste kind is twee jaar oud.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld