Veearts lê klag teen rottweiler-eienaar
2012-01-14 17:04
Johannesburg – 'n Kaapse veearts het 'n formele klag by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ingedien teen die eienaar van die rottweiler wat Woensdagmiddag 'n tweejarige meisie op Clifton se hoofstrand gebyt het, het die Saturday Star berig.
Die meisie is intussen ontslaan. Sy moes 'n noodoperasie ondergaan nadat die hond haar van agter op die regterbeen en rug gebyt het.
Dr. David Grant van Rondebosch sê hy het in Junie verlede jaar, in verband met 'n ander voorval, 'n formele klag by die DBV teen James Lech, eienaar van die rottweiler, ingedien.
Lech, 'n hondefluisteraar, is glo na dié klagte deur diereregte-organisasies op die swartlys geplaas.
Volgens Grant het hy Lech ontmoet nadat hy deur 'n kliënt uitgeroep is wat wou gehad het hy moes sy hond onder verdowing plaas vir 'n reis na Johannesburg.
Die Saturday Star berig die hond wat Grant onder verdowing moes plaas was styf vasgemaak met nylon-toue, kon skaars beweeg en hy was bang.
Grant het glo aan Lech gesê hy voel nie gelukkig oor die manier hoe die hond behandel word nie. Lech het glo op sy beurt gevoel die behandeling wat die hond ontvang was aanvaarbaar.
Nadat Grant die hond onder verdowing geplaas het, het hy aan die kliënt 'n brief geskryf waarin hy hom vra om nie weer na sy praktyk terug te keer nie. Hy het ook die voorval die volgende dag by die DBV aangemeld.
Lech het intussen aangedui hy sal binne sewe dae 'n verklaring in verband met dié voorval uitreik.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA