Vavi waarsku oor 'piesangrepubliek'
2011-06-11 22:17
Johannesburg - Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu, het gewaarsku dat Suid-Afrika 'n "piesangrepubliek" kan word, en gedreig dat hy pres. Jacob Zuma se leierskap sal verwerp, het die Sunday Times berig.
In 'n verslag wat voorberei is vir 'n vergadering van die vakverbond se sentrale komitee op 27 Junie, het Vavi gesê verhoudings in die drieparty-alliansie was verlede September "sleg," het die koerant berig.
Vavi het verwys na die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, wat Cosatu kort voor die ANC se nasionale byeenkoms in Durban uitgenooi het om die alliansie te verlaat.
"Die wyse van verteenwoordiging; die woede gekombineer met arrogansie, posisie-posture, beledigings en slegte taal was op die oog af daarop gemik om Cosatu te oortuig om die alliansie te verlaat," het Vavi volgens die berig in die verslag geskryf wat vir die byeenkoms in Junie voorberei is.
Die verslag het bevestig dat Cosatu geglo het die ANC-jeugliga was daarop uit om Mantashe en Zuma uit hulle posisies te verwyder, het die Sunday Times berig.
"As hulle veldtog slaag, sal die ANC soos ons hom geken het geskiedenis wees. Ons land waarvoor ons so lief is sal reguit in die rigting van 'n piesangrepubliek beweeg. Die huidige uitdaging van korrupsie sal alledaags word en die risiko sal daar wees dat die land as't ware aan die hoogste bieër verkoop sal word," het Vavi volges die verslag gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA