Vat hul rybewyse af, sê minister
2011-12-28 09:02
Johannesburg – Vat roekelose motoriste se rybewyse af, óf skort dit summier op.
Volgens mnr. S’bu Ndebele, minister van vervoer, is dit die manier om die padsterftes te verminder wat in die feestyd die hoogte ingeskiet het.
Ndebele se waarskuwing aan oortreders kom nadat 18 mense eergister tydens ’n reënstorm op die R26 tussen Frankfort en Tweeling in die Noord-Vrystaat gesterf het toe ’n minibus en ’n motor gebots het.
Die dodetal op die land se paaie oorskry reeds die 900-kerf, het mnr. Ashref Ismail, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), gister aan Beeld bevestig.
“Sulke botsings is gewoonlik nie ongelukke nie.
“Dit word gewoonlik veroorsaak deur die blatante verontagsaming van verkeerswette en regulasies en dit sluit oorlading van passasiers, dronkbestuur, spoed en onveilige verbysteek van voertuie in,” het Ndebele in ’n verklaring gesê.
Die departement beoog nou om saam met die nasionale vervolgingsgesag en departement van justisie en polisie toe te sien dat daar meer aggressief teen onverantwoordelike bestuurders opgetree word.
“Die rybewys van bestuurders wat weens enige oortreding gearresteer word, moet afgevat, opgeskort of gekanselleer word,” het Ndebele gesê.
Intussen het die RTMC motoriste gewaarsku om in alle dele van die land versigtiger te bestuur ná reënneerslae gister landwyd.
Die meeste sterftes dié feestyd kan volgens die RTMC toegeskryf word aan botsings van voor, soos die een waarin 18 mense in die Vrystaat dood is.
“In minstens 13 voorvalle vandeesmaand het voertuie reg van voor teen mekaar bots,” het Ismail verder gesê.
Die RTMC beoog om vandag die jongste padsterftesyfers bekend te maak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld