'Vat boewe vas, vermy korrupsie' - Cele
2009-12-14 16:27
Pretoria – Polisiebeamptes mag nie toelaat dat misdadigers hulle lewe neem nie, het Bheki Cele, die nasionale polisiekommissaris Maandag gesê.
"Geen polisiebeamptes mag doodgemaak word as hulle ’n wapen in hul hand het nie,” het Cele aan sowat 1697 leerlingbeamptes tydens ‘n parade in Pretoria gesê
Hy het gesê die beamptes word opgelei om Suid-Afrika te beskerm. Nie om graf toe te gaan nie.
“Jy moet nie skietmal raak nie, maar jy moet beslissend wees in jou optrede om die burgers wat die wette van die land gehoorsaam, te beskerm, asook jou eie lewe. Jy het die instrument om jouself te beskerm.”
Die polisie moet nie misdadigers toelaat om oor hulle te heers nie, het hy gesê.
“Jy moet misdadigers vas vat.”
Cele het die leerlingbeamptes gewaarsku dat hulle ook nie korrup moet wees nie. "As daar met misdadigers gemeng word, sal hulle in hegtenis geneem word en hulle uniform sal van blou na oranje verander."
- SAPA