Valse skool in Pta bestuur
2010-08-05 05:42
Johannesburg – ‘n Swendelaar is Woensdag by die Eskia Mphahlele-biblioteek in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n valse skool bestuur het, het die polisie in Pretoria gesê.
Die 35-jarige man is vasgetrek nadat ‘n klaer hom gesien het en die polisie oor hom in kennisgestel het, het kapt. Jan Legoabe gesê.
Die man het glo die Pretoria Health Institute op die hoek van Beatrixstraat en Kerkstraat bestuur.
Volgens Legoabe het die skool sowat 90 studente gehad.
Die registrasiefooi was R3 500 terwyl sommige mense R21 500 vir ‘n kursus betaal het.
“Sekere van die studente wat bewusgeraak het van die swendelary het opgehou om hul fooie te betaal, maar daar is ‘n moontlikheid dat sommige van hulle steeds geld in die institusie plaas.
“Ons wil hulle stop aangesien die skool nie geregistreerd is nie,” het hy gesê.
Die beweerde bestuurder van die skool sal eersdaags in die hof verskyn op aanklag van bedrog.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA