Vals dokter by hospitaal uitgevang
2011-09-18 20:58
Bloemfontein – ‘n Man wat hom as ‘n dokter voorgedoen het, is by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein in die Vrystaat in hegtenis geneem, het die polisie Sondag gesê.
‘n Veiligheidswag het agterdogtig geraak en die 21-jarige man agtervolg nadat hy die hospitaalperseel Saterdagmiddag betree het, het sers. Thabo Litabe gesê.
Hy het ‘n stetoskoop gehad wat om sy nek gehang het.
Toe die wag hom voorgekeer en ondervra het, het die man beweer hy is ‘n dokter van die Tempe Militêre Hospitaal. Hy het gesê hy is op pad na die ongevalleafdeling om te gaan werk.
“Die wag het die polisie geskakel nadat die hospitaalbestuur gesê het hulle weet niks van die jong dokter nie,” het hy gesê.
Die man sal na verwagting Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van vervalsing en die besit van ‘n stetoskoop.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA