Valke swyg oor Nico Henning
2012-01-19 07:01
Pretoria – Die Valke wou nie enige inligting bekend maak oor Nico Henning wat die hoofverdagte in die moord op sy vervreemde vrou, Chanelle, is nie.
Dit het Dinsdag aan die lig gekom dat Nico 'n oproep aan André Gouws, een van die beskuldigdes en mnr. Henning se vriend, gemaak het om die moord op sy vrou uit te stel.
Chanelle is in November doodgeskiet oomblikke nadat sy haar seun by 'n kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het.
Kol. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat mnr. Henning nou 'n verdagte is.
Hy het gesê verdere inligting kan die saak belemmer.
Dit is nie duidelik hoekom mnr. Henning nog nie in hegtenis geneem is of hoekom die polisie nou eers besluit het om sy beweerde betrokkenheid in die saak bekend te maak nie.
Gouws se borgtogaansoek word later vandeesmaand aangehoor.
Mnr. Henning was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter