Valke stil oor bewerings van Limpopo-premier
2012-09-30 16:01
Johannesburg - McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, het Sondag geweier om kommentaar te lewer oor berigte dat Cassel Mathale, premier van Limpopo, ondersoek word.
“Ons wil nie kommentaar lewer oor ongegronde bewerings nie,” het Polela gesê.
Die Sunday Independent het berig dat Mathale deur die Valke ondersoek word vir vermeende onreëlmatighede in tenders wat deur provinsiale departemente toegestaan is, insluitend ‘n farmaseutiese tender van R314 miljoen.
Mathale se woordvoerder, Mashadi Mathosa, het aan die koerant gesê die premier was nie bewus van die aantygings nie.
“Ons kan nie kommentaar lewer oor iets wat onbekend is vir ons nie,” het sy glo gesê.
Die direkteur van On-Point engineering, Kagisho Dichabe, die uitvoerende hoof, Lesiba Gwangwa, Makgetsi Manthatha en Helen Moreroa het Dinsdag in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery.
Hulle is elk borgtog van R40 000 toegestaan.
Die Sunday Independent berig dat Mathale saam met Manthatha aangekla kan word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA