Valke se verslag oor wapens 'vol skokfoute'
2011-06-06 07:58
Kaapstad - ’n Memorandum “deurspek” met feite- en ander foute was klaarblyklik die grondslag waarop die Valke besluit het om die ondersoek na die regering se omstrede multimiljardrand-wapentransaksie te staak.
David Maynier, ’n DA-LP, gaan dié dokument van ses bladsye aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) voorlê en eis dat lt.genl. Anwa Dramat, die Valke se bevelvoerder, in die parlement verskyn om sy besluit te verduidelik.
Die polisie is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gedwing om die memorandum aan Maynier te oorhandig. Volgens hom bevat dit talle teenstrydighede, spelfoute en onwaarhede.
LP’s het verlede Oktober met verontwaardiging gereageer toe Dramat aan Skoor gesê het die ondersoek – wat in der waarheid slegs op twee bene van die transaksie fokus – is besig om baie duur te raak en dat hy onseker is of dit die moeite werd is om na te jaag.
Die Valke het enkele weke ná Dramat se verskyning voor Skoor besluit om die ondersoek na British Aerospace (nou bekend as BAE Systems) en die Duitse fregatkonsortium te staak.
Maynier het gesê hy is verstom om te sien presies watter ontleding die Valke gebruik het om hul besluit te regverdig en meen dit opper “ernstige vrae”. Die memorandum is geskryf deur genl. Hans Meiring, die Valke se afdelingshoof vir handelsmisdaad.
Volgens Maynier lyk dit of die Valke dink hulle is van parlementêre oorsig kwytgeskeld.
Hy het gesê die memorandum “is swak geskryf” en bevat skokkende en ooglopende foute. In plaas van BAE word daar byvoorbeeld na British Eurospace verwys. Nog foute sluit in die bewering dat drie vername verdagtes dood is, terwyl een van hulle, Fana Hlongwana – wat glo meer as R200 miljoen deur BAE betaal is – nog leef.
Boonop het Meiring verduidelik die polisie vind dit moeilik om inligting te bekom, hoewel hy erken Brittanje se kantoor vir ernstige bedrog het inligting gedeel en daar is 460 bokse en 4,7 miljoen bladsye om deur te werk.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger